n Lang rit na vryheid. Deur Gert Stoltz
This is my dads’ story about his recent bike trip through South Africa. As you can see, its in Afrikaans. This blog post is not aimed at the public, but rather a way for my dads family and friends to be able to read it. (He wanted to type it on a typewriter and mail copies, but I had a small victory- he spent 2 days typing it on my Mac) If you really really want to read it, you can feed the text into the amazing Google Translate
N LANG RIT NA VRYHEID
deur Gert Stoltz
Voordat ek begin wil ek net eers die ding van n motorfiets en n bike uitklaar. Daar is ouens wat definisies het van wanneer jy n biker is en wanneer nie. Vir die doel van hierdie storie gee ek nie om om nie as n biker te kwalifiseer nie. Maar ek wil graag na die ryding as n bike verwys bloot omdat die woord 4 letters het en motorfiets 10. En onder die broers en susters wat hierdie vreemde beheptheid het, staan die voertuig bekend as n bike.
“Bikebedonnerd” is n goeie beskrywing vir ouens wat hierdie ding het oor. Ander voel waarskynlik net so sterk oor hulle besondere belangstelling, maar om iemand “seëlsbedonnerd” of “rolbalbedonnerd” te noem klink net nie reg nie – die konnotasie met oer-instinkte is net nie daar nie. Dit gesê, glo ek dit is noodsaaklik dat, ter wille van jou geestesgesondheid, elkeen een of ander begeesterde beheptheid het, al is dit ook net tydelik. Dit red jou van n staat van totale apatie en verveling – tipiese kwale van die huidige tydvak. Dit is sekerlik n interessante studieveld vir sielkundiges wat soek na antwoorde vir hulle pasiente wat vrae vra na die sinvolheid van die lewe.
Waar die besondere belangstelling in n bepaalde ding vandaan kom, is n ope vraag. Dalk is dit geneties. Of geïnspireerd deur voorbeeld. Wat bepaald nie in my geval geld nie. Ek was bikebedonnerd van n baie vroeë ouderdom ten spyte van die streng behoudende atmosfeer en hoe kulturele waardes wat die geldende norms in ons huis was. Ek het groot geword in die tyd van die Ducktails, en motorfietse was n absolute taboe, volksvreemd en waarskynlik sedebederwend. Tog was daar n oom van my wat n ingeduikte oogkas gehad het, wat, soos dit gefluister was, die gevolg van n motorfietsongeluk was. En soos swaksinnigheid in sekere families, slaan die bikeding nog vandag in ons familie uit: my seun en twee neefs het die streep weg, en n susterskind (n dogter nogal) het nou die dag aangekondig dat sy n bike gaan koop – tot algemene konsternasie en ontsteltenis van die familie. Soos n virus dryf die ding in jou bloed en wag vir n geskikte oomblik om toe te slaan.
In die dorpie waar ek groot geword het was daar presies drie motorfietse: daar was die polisie Harley Davidson met syspan wat jy n kilometer ver aangehyg kon hoor kom. Dan was daar Willem Berry wat sy BSA Golden Flash met kort broek en kaal voete van die plaas af gery het sonder hoofbedekking of bril of ander poefterige tierlantyntjies. En ses voet sewe duim op sy gebarste voetsole. Die mees indrukwekkende kombinasie was die Engelse boer, Joe Gouws, wat oor naweke kom pos uithaal het met sy Norton. Netjies geklee in swart leathers en ander bykomstighede was hy n indrukwekkende verskynsel. Ons laaities het by die bike gewag totdat hy opdaag en dan vir hom gesê: “Spin hom, oom, spin hom.” Wat hy dan tot ons groot vermaak gedoen het met bene wat so weerskante afhang. En ons het met verwondering die stofwolk gadegeslaan en die spinstreep afgetree…. En gevoel soos iemand wat gedeel het in n aartssonde.
Wat daardie sluimerende passie by my egter vlerke gegee het, was ïïdie drie spietkops wat vanaf die naburige dorp ons hoofstraat kom patrolleer het. Met drie swart R50 BMW’s. As ek nou terugdink dan vermoed ek hulle het ons dorpie besoek terwille van die rit soontoe. Want behalwe vir Oom Frans Lawaai wat nie kon sien nie en op gehoor bestuur het, was daar nie juis die moontlikheid vir flagrante verkeersoortredings nie. En al die motorbestuurders was in elk geval gedurig in hulle pasoppens in geval Oom Frans dalk met die GMC bakkie in die dorp was.
Maar daardie drie swart BMW’s; in gelid, glimmend, statig, met die kenmerkende gedempte brul van Bokserenjins. Ai! En soos wat die ratte oorgeskakel word teen die opdraande, tel hulle elke keer kop op. Soos net n BMW dit kan doen. Ek het aan die varkdraadheining van die speelgrond gehang en probeer om soveel van die bekoring te ervaar en vas te lê as moontlik. En myself belowe: Eendag, eendag sal ek ook n swart BMW ry.
My pa was nie beïndruk met my beheptheid met bikes nie, en sou eerder wou sien dat ek harder aan my klavierlesse werk. Ek kan my voorstel dat hy net sy kop in ongeloof kon skud oor die seldsame afwyking in sy seun. Veral nadat ek uitgevang is deur die Duitse musiekonderwyser dat ek sy Puch scooter steel en ry as hy middagete in die koshuis nuttig. Die feit dat n koshuisseun bereid is om n ete op te offer vir die twyfelagtige voorreg om op n Puch scooter te ry, moet vir jou iets sê van die graad van versotheid op doodskiste op wiele, soos die oningeligtes lief was om bikes te noem.
Hierdie was voor die tyd van die fifties. So daar was nie eintlik n kans dat jy jou eie kon hê voordat jy agtien geword het en n lisensie kon bekom nie. Willie Berry was darem daar met sy Golden Flash en ten spyte van die verskil in ouderdom was ons vriende. Die BSA het tragies aan sy einde gekom deur heeltemal ongevraag aan die brand te slaan en totaal uit te brand langs die pad. Vir my was dit soos dood in die familie.
In my tweede jaar op universiteit het ek genoeg geld gedurende die Desembervakansie bymekaar gemaak met wolklas om iets aan my droom te doen. n Toetsrit op n Vespa het my gou oortuig dat n donkie nooit n perd kan wees nie. Johannesburg toe. By die tweedehandse bikewinkel staan hulle ingeryg – alles Engelse fietse. Hoe kies jy een vir R90? Jy trek maar die levers en draai die petrol oop en toe en probeer intelligente vrae vra. Uiteindelik besluit ek op n witte met blou strepies… n pragfiets in my bedwelmde oe. Daar is egter n klein probleempie: die bike is nie dadelik rybaar nie. Hulle moet hom eers tune. Ek moet maar n bietjie wag. Ek wag……. en wag….. en wag. Kort-kort brul daar n ding erens in die gebou en ek hoop dis myne, wat n bewys sal wees dat hy wel loop. Iemand kom beduie naderhand vir my hoe “patience” n “virtue” is, maar deugsaamheid is op daardie oomblik nie hoog op my prioriteitslys nie. Dis eienaardig hoe n mens jare kan wag om n ding te koop, maar as jy die slag besluit om te koop, wil jy hom NOU hê, dadelik.
Uiteindelik word die wit en blou Triumph 650 Speed Twin uitgestoot: my eerste bike. Die feit dat ek nog nie n bestuurderslisensie het nie is op daardie oomblik n mindere kwelling te midde van hierdie grootse oomblik. Ek vat die pad terug Potch toe, maar van daardie trip kan ek niks onthou nie. Miskien werk jou brein nie mooi as jy op jou eerste bike sit en die aardse kettings val van jou af nie.
Wat ek wel gou agterkom, is dat die Triumph n oliepister was. My skoene en langbroek het gou gelyk asof dit aan n oliebooroperateur in die Persiese Golf behoort. Solank as wat ek die Triumph gery het, het ek lang plastieksakke oor my bene getrek om die ergste skade te beheer. Asof hy hoe bloeddruk gehad het, het hy olie by sy pakstukke uitgeblaas. Die bike was omtrent ewe swaar op olie en petrol.
Ek het heelwat met die Triumph gery. Vakansies huis toe en klas toe by die PUK. In die konserwatiewe heiligdom van Doppers het daar waarskynlik menige wenkbroue gelig as ek by die lesinglokale verby gejaag het, want die Triumph had nie juis baffles nie, en ek was n moedswillige student .
Die een Julievakansierit huis toe sal ek nie lig vergeet nie. In daardie jare was valhelms nie verpligtend nie, en ek twyfel of ek in elk geval een kon bekostig. Warm klere was eweneens n luukse. Jy trek dus alles aan wat jy het, en tussen elke laag klere druk jy koerante in. Bo-oor alles kom n army jas. n Plastiek klapmus hou die ore warm (dis die teorie) en n bril soos vegvlieëniers in die Eerste Wereldoorlog gedra het, beskerm jou oë teen vlieënde voorwerpe. Leerhandskoene met n baie dun voering rond die prentjie af. Voila! Jy is gereed vir die reis.
Ek het vroegoggend uit Potch vertrek, en toe die son opkom toe ry ek naby Parys. Toe sien ek hoekom dit voel asof ek saam met iemand se bederfbare produkte in die vrieskas beland het. Die son skitter op die yskristalle op die gras en die yskeëls hang van die doringdraadheining af. Jy kan nie besluit wat die beste gaan wees nie: om vinniger te ry en kouer te kry oor n korter tyd, of stadiger, en langer te vat om solied te vries.
Maar nooit kom dit by jou op om jou keuse van voertuig te bevraagteken nie. Al sit jy en bibber van die koue binne jou papierkokon bly hierdie vibrerende, brullende monster onder jou jou paspoort na vryheid.
By Standerton stop ek by n kafee voor die ou ysterbrug. Ek moet net iets doen om te ontvries want ek kan nie eintlik my ledemate voel nie. Die eerste ding wat nie meer werk nie is my knieë. Ek sukkel om my bene reguit te kry om die bike regop te hou. Dan sukkel ek om my hande te oortuig om die handvatsels te los. Uiteindelik staan ek langs die bike en begin soos King Kong se jonger boetie kafee toe waggel. My gesig is so dood soos n deegrol en ek moet n paar keer probeer voordat die kafee eienaar verstaan dat ek warm koffie soek. Hy kyk my met onbegrypende oë aan.
Die laaste 42 kilometer grondpad was n avontuur op sy eie, want Triumph het nerens daarop aanspraak gemaak dat hulle bikes “adventure bikes“ is nie, en sinkplaatpad is geneig om enige bike se suspensie- tekortkominge genadeloos uit te lig.
Ten spyte van my pa se waarskuwing ,“Jy bring net nooit n motorfiets op die werf nie,” was hulle tog bly om my te sien, ofskoon die bike ooglopend geïgnoreer is en ek netsowel uit die hemel kon geval het.
Die Triumphfase is beëindig toe ek weer gaan wolklas het aan die einde van die jaar. Toe ek tuis kom en verneem na my bike wat nie meer staan waar ek hom gelos het nie, se my pa, “Daar loop drie beeste in die kamp. Ek het hulle verruil vir jou motorfiets.”
Die Triumph was egter instrumenteel om een van die lewenswaardes wat Aesopus hoeka al by die mensdom probeer tuisbring het, grafies te illustreer, met my as onwillige agent, naamlik: ydelheid kom voor n val. Die teerpad wat ook gedien het as hooftoegangspad vir die dames na die Onderwyskollege toe het agter ons manskoshuis verby geloop. En dit is waar my daaglikse rit na die PUK ook begin het…. Ten aanskoue en aanhore van n gewigtige persentasie kollegedames op pad klas toe.
Soos gebruiklik het ek die Triumph van sy systaander afgehaal, wydsbeen oor hom gestaan, aangesluit, die petrolkraantjie oopgedraai, gechoke en geskop – want die Triumph had nie n selfstarter nie. Wil nie vat nie. Ek voel die bloed in my gesig opstoot, want daar is min dinge wat jou ego so vinnig afblaas as n bike wat nie wil vat en jy skop en skop asof jy van hondebollies onder jou skoen ontslae wil raak. Ek kyk nie, maar ek weet daar is omtrent veertig meisies wat geamuseerd uit die hoek van hulle oog hierdie petalje dophou. Ek verloor effens balans en wil my linkervoet uitskuif om die bike regop te trek. En dis net daar wat die gode besluit om die sedelessie tuis te bring. My voet kan nie skuif nie want my broekspyp het onder aan die systaander se traparmpie vasgehak. En stadig, genadeloos en onafwendbaar, maar met soveel grasie as moontlik, bliksem ek en die Triumph om. Quad Erad Demonstrandum. Die meeste letsels op my psige het nou al vervaag, maar dit was waarskynlik die belangrikste leerervaring wat ek voorgraads aan die PU vir CHO opgedoen het.
bikes
Bikeloos begin ek werk. Naweke ry ek en die vrou tussen die plase rond op soek na ou voertuie of bikes. By een stat verbeel ek my ek sien n bike staan. Ek stoot terug. Onder n boom, toegegroei onder kakiebos, staan n 10/12 Harley Davidson. Hy lyk volledig maar het duidelik in jarre nie geloop nie. Die eienaar kan nie veel inligting gee nie. Hy het wel met die Harley geploeg tot hy nie meer wou nie, en van toe staan hy hier. En ja, hy wil hom verkoop. Ons laai hom op die bakkie. Dis n helse swaar masjien, en hy benodig duidelik n klomp liefdevolle aandag.
Op aanbeveling van iemand vat ek die Harley na Van toe – hy ken Harleys. Van is n tipiese bekjaart mekenniek – op sy gelukkigste in sy deurmekaar agterplaas tussen bokse onderdele en bikegeraamtes en items wat nie in hierdie millennium weer gebruik gaan word nie. Van sien kans vir die Harley.
Van het uiteindelik die Harley aan die loop gekry maar selfs ek kon sien dat die enjin hartomleidings en ander ingrepe ondergaan het wat die here Harley en Davidson nie in hulle mees kreatiewe visioene kon voorsien nie. Maar loop het hy geloop.
Om die Harley te ry was nogal n uitdaging, want niks van hom het jou aan die Triumph herinner nie. Boonop was hy beslaan met twee karbande, en probeer nou om n draai gaan daarmee.
Ek het die Harley verkoop aan iemand wat oor hom geneul het, wat ek seker nie moes doen nie, gegewe wat daardie veterane vandag werd is. Maar ek het hom dadelik vervang met n tweeslag Suzuki 750. n Haastige fiets vir sy tyd, maar een wat gedurig oliespatsels op jou rug gelos het as gevolg van onverbrande olie in die tweeslag mengsel.
Toe ek n pos in Pretoria aanvaar moes ek van hom en n paar veteraanmotors ontslae raak as gevolg van n spasieprobleem by die nuwe huis, wat my toe die nie onaansienlike bedrag van R3000 in die sak laat. Daarmee is ek Club Motors toe en in die jaar van onse Here 1979 koop ek toe n swart BMW R80/7 – 25 jaar nadat ek myself een belowe het.
En so kom my verbintenis met die swart BMW nou al een en dertig jaar sonder dat daar een oomblik was wat ek hom verwens het. Behalwe een keer toe hy n condenser (wat is dit tog in Afrikaans) geblaas het en ek hom met n pak klere en al in Februarie hitte teen die bult by die Rigellaanoprit moes opstoot. Amper bo en my pak klere deurweek van die sweet, het n tannie by my stilgehou en deur die passassiervenster gese: “Ag Jirre, meneer. Kan ek jou nie help nie. Ek kan my seun bel. Hy’s n mekenniek.” Maar andersins het die BMW himself bewys as meer uitnemend as goud en korale; nie vreeslik vinnig nie, maar uiters stabiel en betroubaar, selfs op baie slegte grondpaaie. Nie baie verskillend nie van die GS 80 wat op hierdie stadium sy verskyning gemaak het as die eerste toerfiets met grondpadvermoë .
Ek het werk toe gery met die motorfiets, wat waarskynlik die beste basis is waarvandaan jy die mentaliteit van die Pretoriamotoris kan bestudeer as jy sou wou. Hy haat n biker. Waarskynlik omdat n biker alles versinnebeeld wat hy nie is of het nie: die waagmoed (guts) om verkeer, koue, reën, spietkops, breindood motoriste soos hyself n denkbeeldige middelvinger te gooi. Die vreesloosheid en vaardigheid waarmee n biker n lewensgevaarlike vuurpyl tussen rye motors deur loods om voor by die verkeerslig te stop moet knibbel aan sy ongetoetsde manlikheid, terwyl die geskreeu van uitlaatpype die simbool word van die biker se rebellie teen alles wat vaal, institusioneel en voorstedeliks is.
Vir sewentien jaar het ek Pretoria se verkeer oorleef met net twee noemenswaardige insidente. Die een keer toe die BMW se crash bar ingehak het by die voorste stamper van n motortjie waarmee die bestuurder verseg het om my die nodige spasie te gee om tussen hom en die geparkeerde voertuie deur te kom. Gelukkig het die stampertjie afgebreek nadat ons dertig tree hand op die blaas in die straat af tougetrek het .
Die ander keer het n spanjoel, wat een oomblik nog baie geïnteresseerd was in iets op die sypaadjie, skielik onthou hy moet dringend huis toe en oor die teerpad gestorm met flappende ore. Hy het netjies my voorwiel uitgehaal, en terwyl die bike op sy crash bars soos n ysskaatser teen die bult afgly, doen ek wawiele teen dieselfde spoed. As dit nie was vir die randsteen nie, het die BMW niks oorgekom nie. Maar nouja, geluk is nie altyd aan jou kant nie. Ek het betreklik lig daarvan afgekom. Die nylon warmbaadjie waarmee ek gery het, het teen my skouer vasgesmelt van die wrywing op die teer, wat maar weer bewys, jy gaan nie kompromieë aan op motorfietsdrag nie.
Toe ek Pretoria kon afskud om te gaan boer, het die R80 saamgekom. En sedertdien drink hy genade petrol, as daar so-iets is. Hy kry darem nou en dan kans om skouers te skuur met n paar ander gryses wat nog deur hulle waarderende en sentimentele eienaars in stand gehou word. Hy sal altyd my hartfiets bly.
Nou is dit seker tipies menslik dat as die bylhoue in jou bos al hoe feller opklink en jy en die Onverbiddelike Maaier al rakelings by mekaar verby geskuur het, dat jy begin besef dat daar tog ruimte is vir “nice to haves.” Jy besef jy gaan hierdie pad nie weer loop of ry nie, en as motorfietse jou ding is, kan jy maar net sowel die laaste entjie in die saal van n bike deurbring. En as die gedonder van die uitlaatpype, en die geur van die veld, en die blou lug bo, en die skrikwekkende klomp krag wat jy kan loslaat met die draai van jou gewrig jou in n ander dimensie as die van die sterflike aarde plaas, dan is dit jou klein protes teen die kortstondigheid, en die onvermydelike en finale ontbinding van alles: Die Groot Niks.
Daarom is die medium wat jy gebruik om aan alles (behalwe swaartekrag) te ontsnap, die motorfiets, nie bloot n vervoermiddel nie, maar jou voertuig na vergetelheid. Ek vermoed die ernstige biker spandeer meer tyd om te besluit watter bike hy wil hê as wat hy spandeer om n huis te koop. Want die bike moet daardie transendasie waarna hy soek vergestalt, al staan hy botstil. Let maar op hoe n klomp bikers om n bike kan saamdrom. Lees hulle lyftaal. Kyk hulle oë. Die werklikheid is tydelik opgeskort. Lawrence of Arabia, wat self n biker was en dood is in n bike ongeluk, het dit so gestel:”A biker is one of those fortunates who is a warrior with the soul of a poet”
En moet tog nooit probeer om enigiets hiervan aan onbekeerdes te verduidelik nie
Elke biker het sy eie persepsie van die ideale bike wat bepaal word deur die rol wat hy verwag die bike moet vervul om aan hom die hoogste genoegdoening te gee. n Harley eienaar se redes waarom hy die spesifieke bike ry verskil totaal van die avontuurbike ryer. Die veldfietsryer en die superbiker het ook nie baie om vir mekaar te se nie. Die doel waarvoor jy die bike wil koop bepaal die soort bike wat jy koop. Ek wil agter die horisonne gaan kyk. Daarvoor het jy n avontuurfiets nodig. Buitendien is ons plaaspad nie gebruikersvriendelik vir padfietse nie. Dus kan ek al vir n geruime tyd n dubbeldoel bike in my stal regverdig (Asof jy ooit die besit van n bike hoef te regverdig). Ek het intensief gelees, gekyk, gevra, vergelyk en gery. En elke keer was die antwoord op al die vrae, die BMW 1200 GS. Die term wat waarskynlik die meeste gebruik word in verwysings na die bike, is “superb.” En dis goed genoeg vir my.
Ek het begin soek na tweedehandse GS’e. Hulle is so skaars soos eerbare politici. Kuier ek een keer by my suster in Pretoria. Ontmoet daar n kêrel met baie dieselfde belangstellings as ek. Praat naderhand motorfietse. Noem my soeke na n GS1200. Wil jy nie myne koop nie, vra hy. Hy ry veldfiets saam met sy seuns en die GS staan. Die bike kom saam met sy tasse en alle denkbare ekstras. 1300 km gedoen. Ek koop die bike; of eintlik, die bike koop my. Op 26 Februarie gaan haal ek die bike in Pretoria. Dis n massiewe fiets. Jy kry kwalik jou been oor die saal geswaai so hoog is hy. Met die boonste tas op moet jy iets van n akrobaat wees om in die saal te kom. Maar as jy eers in die saal is, is jy tuis. Alles voel net reg. Al die rekenaarfunksies is nog n raaisel vir my, maar daar is n eienaarshandleiding so dik soos n kookboek wat ek nog sal bestudeer.
Ek druk die aansitter. Die Bokserenjin vat dadelik en praat met my deur die Acrapovic uitlaatpyp op n diep, grommende noot, soos n luiperd in n vanghok.. Ek trek weg. Na die 30 jarige R80 en die plaas se TW 200 voel die GS soos n vuurpyl. Die fiets se hoogte suggereer dat hy topswaar moet wees, maar hy is nie. Hy is glad, hanteerbaar, voorspelbaar en so ligvoets soos n Russiese ballerina. Ons slaan die N4 huis toe. Die fiets is n fees. Jy sit knus agter die windskerm en luister na die gedempte brul op jou linkerkant. Die versoeking is groot om hom op te wen, maar hy is nog nuut en buitendien begin n rooilig dringend flikker. Die olievlak is te laag, lei ek naderhand af. Wat nou gemaak. Ek ry stadiger en hou op om asem te haal tot by die eerste vulstasie duskant Middelburg. My olievlak is ook laag en ek gaan kry iets om te eet. Die Beemer trek aandag soos hy daar staan met al sy tasse aan. Ek sou wat wou gee om te hoor wat die ouens dink wat daar rond staan en die bike bekyk. Veral as jy nonchalant aangestap kom en maak asof jy en die Beemer op die laaste skof van n wereldtoer is. Eat your hearts out, you poor slobs. Ek moet nou net nie die ding laat vrek as ek wegtrek of op n ander manier n gat van myself maak nie.
Duskant Belfast begin dit reën, maar net my bene raak nat. Die skerm werk goed.
Oplaas is ek op die 12 km grondpad huis toe. Teerpad is een ding; sandpad is n perd van n ander kleur, veral as jou bike amper 230 kg weeg en jou ervaring met so n groot bike links is van nul. Ek het geen idée wat om te verwag nie. Ten alle koste wil ek nie die bike se buitelyne al op die eerste dag verander nie. Ek weet jy kan sy suspensie stel vir grondpad, maar ek en die rekenaar het mekaar nog nie eintlik van aangesig tot aangesig ontmoet nie en ek hoop maar vir die beste. Ek probeer Jan Staal du Toit se wenke wat ek gelees het, toepas: Look up, stand up, open up. Dis makliker gesê as gedaan. Ek staan op die harige plekke en probeer die perde wat met die agterwiel wil weghol beheer. Jy kry naderhand die gevoel van die ding en wil-wil net ougat raak. Die angssweet wat my afgerol het was totaal onnodig. En summier begin ek dink aan die agterpaaie wat vir my lê en wag.
Ons kom by die huis aan. Ek klim af. Ek haal die valhelm af. Ek kyk vir die fiets. Hy staan daar asof hy lankal reeds deel van hierdie werf moes gewees het. Ek was hom en trek hom agter die R80. Hy verdwerg die ou veteraan. Maar tussen hulle twee is daar tog n gemeenskaplikheid: n wereld wat hulle oop en onverbonde kan maak, en waarin ek n vreugdevolle en opwindende aandeel kan he. Waar is die padatlas nou?
Nou begin die probleem om redes uit te dink wat goed genoeg is om die bike tydig en ontydig te ry. Gelukkig is daar een wat redelik geloofwaardig is. My seun verbreek sy huis in Stellenbosch en hy kan dalk doen met n bietjie hulp. Buitendien sien ek hom gans te min en n kuiertjie sal heeltemal in orde wees. Om die waarheid te sê, ek sou Kaap toe ry net om te kyk of daar nog meeue op die voorstrand is. Buitendien is daar n klomp goed wat getoets moet word: die nuwe bike, die nuwe klere en les bes, of n 66 jarige ballie dit nog kan doen. Die plan is om Saterdag 13 Februarie weg te trek. Donderdag 11 Februarie hang my tasse al klaar aan die GS, en lê my ryklere uitgestal op die bed. Ek moet myself bedwing om nie die bike solank te laat staan en luier nie – gereed vir die wegtrek. Vrydag 12 Februarie probeer ek sinvol besig bly om die potensiële skades wat tydens my afwesigheid kan plaasvind tot die minimum te beperk. 13h00 besluit ek, wat de hel, en trek my ryklere aan. “Kyk mooi na die beeste,” is my laaste vermaning, en ek druk die GS se neus in die pad. Die bike is swaar gelaai met drie tasse op en n rugsak wat ek dra vir wat ek beskou as nooditems: n Leesbril, oogdruppels, padkaarte en n kamera. Lydenburg, Dullstroom, Belfast flits verby. n Mens probeer by die belaglike spoedgrens van 100 km/uur te hou, Maar die GS het die stang vasgebyt en daar is nie keer nie. Fan mail van die Verkeersdepartement sal ek maar later hanteer.
Ek vat dit stadig deur n smerige Carolina en wil net weer die toere opdruk toe n spietkop die motoris voor my aftrek. Iemand het in sy wysheid besluit dat jy eers vir n ent teen 80 km/uur moet opwarm vir die 120 km/uur stuk wat wag na Chrissiesmeer en Ermelo.
Duskant Chrissiesmeer is daar n veldbrand langs die pad. Die gras wat brand is nog groen en n swaar rookwolk hang oor die pad. Ek ry stadiger, maar besluit om deur te druk. Fout. Groot fout. Dit voel asof iemand n banksak oor jou kop getrek het. Jy kan nie n meter voor jou sien nie. Draai die pad na links of regs? Het iemand dalk voor jou stilgehou? Self kan jy nie stilhou nie ingeval iemand van agter af in jou vasneuk. Is jy nog in die regte baan? Kom iemand van voor af aan in dieselfde baan? Boonop verstik jy in die rook en jou oë traan so dat dit teen jou wange afloop. Net daar besluit ek om in die toekoms kamp op te slaan duskant enige rookbank oor die pad, n boek uit te haal en te wag totdat die rook opklaar op watter manier ookal. n Rookbank is nie jou maat nie. Bly daar uit.
Die eerste aand slaap ek by my suster-hulle op Ermelo en doen die familie-ding wat n mens helaas te maklik ignoreer.
Saterdagoggend val ek vroeg in die pad en ry my onmiddellik vas teen die land se nuutste toets vir geduld: padverleggings en die wag-en-ry-oefening. Ek neem my sommer uit die staanspoor voor om hierdie verskynsel kalm te hanteer: ten minste is iemand besig om iets aan hierdie pad te doen in teenstelling met soveel ander erosieslote wat deurgaan as nasionale paaie.
Amersfoort is my grootword dorp. Die herinneringe lê vlak as ek by die gruisgroef verbyry waar ons bende gespeel het. Waar is die asemrowende pieke, die duiselingwekkende kranse heen? Waar is die meer aan die voet van die berg? Was hierdie banale gruisgroef en die poeletjie water regtig die droomwereld van ons jeug? Hoe jammer is dit nie dat die sinisme en ontnugtering van volwassenheid die onskuld en romantiek van jou jeug moet vervang . Op die Saterdagoggend lyk die dorpie verslae en verslons. Die geboue het na 50 jaar min verander, maar die dorp het sy siel verloor.Die Indiërwinkels het nog dieselfde name. Daar is nou vir jou n voorbeeld van kontinuïteit. Maar Subels Dressed Poultry waar ek opgegraafde perde- en beesbeendere gesmous het vir sakgeld, is n ruïne. Die skool se speelgrond waar ons verbete bok-bok-staan-styf, fly, alies en top gespeel het, lyk onversorg. Die spruitjie waar alle beginners eers moes leer swem het (Meisiekrans) voordat jy opgegradeer het na die gevaarlike swemgat, die Kranse, is n onbeduidende moddersloot. Ons plaas buite die dorp lyk na n swart behuisingsprojek met die gepaardgaande niks wat heeltyds gebeur. Ten minste is die veld mooi groen.
By Volksrust swaai ek weg op die Vredepad, wat summier n grondpad word. Tyd om die GS se grondpadvermoë teen spoed te toets. Later draai ek weg na Memel. Dit het goed gereën in die omgewing, waarvan al die dwarsslote oor die pad n stamperige bewys is. Van spoed is daar natuurlik nie sprake nie, en jy kan die mooi omgewing en vet beeste goed bekyk.
Halfpad tussen Memel en Harrismith lê Verkykerskop. Ek besluit die plek het sy naam gekry omdat jy n verkyker nodig het om hom raak te sien. Daar is egter n eetplek en kroegie en ek trek af, want daar staan ook n viertal BMW 650 GS’e. Dit is boere van die omgewing wat n toeristeroete vir bikers soek en hulle wil opsluit hê ek moet saamry. Dit sou my egter in die direk teenoorgestelde roete neem as waarheen ek wou gaan. En so graag as wat ek Normandienpas wou sien, was dit nie die geleentheid daarvoor nie. Hierdie keer wou ek RY, nie toer nie. Maar soos net boere dit kan doen, kuier ons n vark uit n hok voordat ek verder ry. Die pad is nou weer geteer, en ek stoot aan met spoed. Op Harrismith het ek laas n spoedkaartjie gekry, en bedwing myself deur die dorp. Nou lê die Golden Gate Reservaat voor met sy lang draaie en aangrypende rotsformasies. Die plek verdien meer tyd en aandag, maar soos reeds gese, hierdie keer RY ek net. Intussen het die krampe wat ek die vorige dag in my hande gekry het verdwyn en alles is so goed soos wat ek my verbeel het dit moet wees.
Ek trek drie uur in op Clarens. Die Harleymanne het n saamtrek daar. Ek bestel n koffie by n oulike winkeltjie en sit en verwonder my aan die bisarre verskynsel: die Harley fenomeen. n Harleyryer het n bepaalde drag, n bepaalde pose, n bepaalde gesigsuitdrukking en n bepaalde rystyl. n Harley en sy baas het n bepaalde teenwoordigheid, n impak soos n Britse Bobby op sy perd. Hulle neem hulself ernstig op. Hulle laat hulle net nie ignoreer nie. As die totale prentjie jou dan nie interesseer nie, dan sal die bulderende uitlaatpype seker maak dat almal in die omgewing die nodige piëteit aan die dag lê.
Daardie nag slaap ek min, want dit reën in die nag en daar is n geut wat afgemete, welluidend en ononderbroke drup….en drup… en drup. Die Chinese het meer van die menslike psige af geweet as waarvoor ons hulle krediet gee.. Voor sonop vat ons die pad Fouriesburg toe. Dis vars na die reën,en daar is tarentale langs die pad. Die spitse van die Drakensberge is swart geëts teen die opkomende son. Die rooi sandsteen koepels en kranse maak n skouspel wat jy verniet op n kamera probeer vasvang. Dit is motorfietsry op sy beste. Hierdie pad sal ek weer ry.
Rondom Wepener lyk die pad soos n strook oorgeplante maanlandskap. Die ryvlakke waar die motors se wiele loop is begat soos n gholfbal. Net die middelman is redelik ongeskonde en ek hou die GS daarop. So vorder ons goed en kan ons gemaklik die 80km/uur spoedgrens ignoreer.Ek het egter die suspensie gestel soos vir grondpad en dit werk wonderlik.
Van die ander dorpe kan ek nie veel onthou nie, maar was deeglik bewus van hoe die veld verander van die lower van die Vrystaat na die bossies van die Oos – Kaap – en die hitte. Aliwal Noord, Burgersdorp, Steynsburg, Middelburg, Graaff-Reinet. Ek rits my reënvaste baadjie omtrent heeltemal oop, rits die moue oop om meer wind te vang en druk die spoed op om te kyk of die lug nie koeler wil word nie. By Uniondale draai ek weg na De Rust. Die pad loop tussen die Swartberge en die Kamanassieberge. Soos groot spieëls kaats hulle boomlose wande die hitte die vallei in. Ek ry met n oop valhelm, maar al wat gebeur is dat jou oë net vinniger uitdroog.
De Rust lyk na n oulike plek, maar nou ry ek om uit hierdie hoogoond uit te kom. Dis half vyf die middag. Die GS se termometer sê 41.5 grade Celcius. Ek het reeds bykans n duisend kilometer gery, en ek oorweeg om nog aan te stoot want die son sit nog hoog. Maar reg van voor, bygesê. Het ek al gese dit was warm, witwarm.
Duskant Oudtshoorn begin my neus bloei. Ek trek af. Dis n morsige spul in die valhelm, op die fiets en op my klere. Ek haal n lappie onder die sitplek uit en probeer die saak beredder. My neus het die laaste sê. Ek gaan slaap op Oudtshoorn.
Maandagoggend is ek weer vars en lus vir die ding. Ek ry deur Calitzdorp, Ladismith, Barrydale en drink koffie by n netjiese padstal op Montagu. Dis blykbaar a gewilde bikerbestemming, maar ek is die enigste ou daar. Kogmanskloof is n lekker afwisseling na die honderde kilometers se plat, eindelose paaie. Worcester is n besige plek na al die klein plekkies waardeur ek gekom het. En net daar ry ek vas in n tierende noord-westewind wat jou met geweld van die pad afdwing. Die bike lê skuins teen die wind wat met rukke en stote kom. Elke keer as die wind vir n oomblik breek swaai jy woes oor na die ander kant van die pad. Dis scary, om die minste te sê. Die groot tasse help ook nou nie juis om die bike vaartbelyn te maak nie. My valhelm het n redelike groot peak (‘tuit’ sê die woordeboek) en op die dwarste kom die wind onder die peak in en breek omtrent jou nek. Niks lekker nie. Dinge lyk egter beter toe ek Du Toitskloof vat, en die ou roete opsoek. Hoër op is daar mis en dit reën saggies. Wat n kontras met gister se versengende toestande. Wes van die berg is dit winderig en bewolk, en ek verwonder my weer aan die verskillende klimaatstreke wat ons land so besonders maak.
?
Kogmanskloofpas tussen Montagu en Ashton
Met groot genoegdoening stop ek voor my seun se huis in Sellenbosch: 2050 km sedert ek Vrydag op die plaas weg is. Die enigste emosie wat ek ervaar is n diepe tevredenheid, soos wanner jy iets reggekry het wat nie sommer vanself gebeur nie ; iets wat jou toets en louter, en dan vergoed met n sensasie van betekenisvolheid.
Ek kan nie wag om met die terugrit te begin nie, want duidelik het ek nog nie genoeg geRY nie. Maar die GS moet gediens word voordat dit kan gebeur en ek sien ook uit na die kuier met my seun.
Vrydag 19 Februarie trek ek vroeg weg vanaf Stellenbosch op pad terug huis toe. Ek wil deur die Noord-Kaap ry omdat ek die wereld glad nie ken nie. Dis nog donker as ek deur Paarl en Wellington ry. Michell’s pas kom en gaan. Ceres is n fraai dorp en behoort besigtig te word, maar ek weet nie wat voorlê nie en wil kilometers agter die rug kry. Die teerpad hou skielik op en ek bevind my in n barre omgewing. In die Tankwa Karoo was met die sondvloed net n paar wolkies op die horison. Jy sien geen lewe nie: Geen mense, geen voertuie, geen diere nie. Nie eens goggas op die windskerm nie. Aanvanklik is die pad nie te sleg nie, maar gaan progressief agteruit totdat jy die teerpad vanaf Matjiesfontein na Sutherland kry. Daar is talle motorhekke, maar ek het nie een stuks vee gesien nie. Ek wonder waarmee hou die boere van die omgewing hulleself besig, want jou boerderyaktiwiteite kan nie veel meer behels as om die windpompe se brieke los of vas te draai, die heinings te patrolleer en te kyk dat die ramme nie leeglê nie.
Ek bereik Sutherland en verstaan hoekom die plek so vervlaks koud is: hy lê dan bo-op die Karookoppe. Ek eet ontbyt in n oninspirerende eetplekkie, maar die mense is vriendelik en verseker my daar is nie snelstrikke en spietkops op die pad wat voorlê nie. Ek sou later verstaan hoekom nie. Die pad oor Fraserburg na Loxton is eintlik n klippad, want die padoppervlak is n laag kleinerige klippe wat in bane getrap is deur die motors. Solank jy binne die klipwalle hou met die bike is alles wel. Om die spoor te verloor en in die los klippe te beland kan interessante manoeuvres tot gevolg he. Vir die eerste keer wonder ek of dit wys is om hierdie pad alleen te ry, want n sny in die band is hier n wesenlike realiteit. Ek haal Loxton met net een benoude oomblik (of O-fok! ervaring onder die bikers). Nerens is daar sigbare water of eers tekens van water nie, behalwe tussen Fraserburg en Loxton waar n boer se waterpyp onder die pad deur lek en n stroompie water oor die pad mors. Dis n liederlike pappery en seepglad en amper, amper sit ek die GS daar neer. Behalwe dat ek en die bike met spierwit modder bekletter is, is daar geen verdere skade nie. So in my enigheid dink ek dat as jy hier sou val, gaan jy twee weke lê en bloei voordat iemand op jou afkom, so verlate is dit.
?
Erens in die Tankwa Karoo
Die rekenaar herinner my egter aan n ander probleem: Ek gaan Victoria-Wes moeilik haal met die beskikbare petrol. Van Sutherland na Victoria-Wes is oor die 300 kilometer en dis omtrent die reikafstand van die GS as jy beskaaf ry. Ek ry naderhand teen 80 km/uur soos wat ek die oorblywende liters rek en maak Victoria –Wes met net die reuk van petrol in die tenk.
Van brandstofverbruik gepraat: die GS is nie lig op brandstof nie, veral as jy al die tasse op het en jy trek sy ore. Met n sterk wind van voor was die verbruik op n stadium 6.8l/100km. Daar is groot motors wat beter doen. Maar wie de hel wil in n motor sit as jy die soetdorings eerstehands ruik en jy die son en die wind op jou lyf voel. As jy n groot bike wil ry is brandstofbesparing nie n oorweging nie. As jy petrol wil spaar, koop vir jou n scooter.
Die N12 is stil die tyd van die jaar en n mens kan maar aanstoot. Ek doen amper 1000 km vir die dag en stop op Kimberley. Ek trek by n vulstasie in om vol te maak vir die volgende dag. n Ouerige kerel klim uit sy BMW uit en aanskou die stowwerige, bemodderde Beemer. Daar is n ver kyk in sy oë as hy sê,”Jis, dis hoe n mens dit moet doen.” En dit was die tipiese reaksie van n wye verskeidenheid van mense langs die pad: motoriste, passassiers in motors, trekkerdrywers in die land, selfs n verbygaande vrou van twyfelagtige beroep, almal wuif of groet of kom wissel n paar woorde. Nou dat die seeroetes ontdek is, die Groot Trek agter die rug en migrasies gestuit het teen die beskawing, bly daar maar min oor vir diegene wat nog iets van die avonturier in hulle oor het. n Toerfiets met sy tasse op (veral as hulle vol stof en modder is) simboliseer steeds ver paaie en onbegaande streke vir die manne wat nog nie deur die najaag van goed, kos en spele afgestomp is nie. Geen wonder die GS 1200 is die beste verkoper in die land nie.
Van Kimberley af het die wereld goeie reën gehad, en spekvet beeste wei in gras wat penshoogte staan. Die gebied is vol herinnerings aan veldslae tydens die Anglo- Boereoorlog en ek sou graag die plekke wou besoek. Maar nie hierdie keer nie. Ek RY mos. Daar is talle stop-en-ry padwerke. Jy word letterlik gekook in jou reënvaste klere terwyl jy wag vir die voertuie om van voor af verby te kom. Maar soos ek gesê het, enigiets vir vooruitgang.
Ek slaap die nag by familie op Potch en vertrek weer vroeg Sondagoggend uit die slapende dorp. Die bekoring wat die vroegdag het as jy op n bike is bly maar net uniek. Ek swaai by Carltonville weg Krugersdorp toe. Die betowering van die ooptes is verby. Die geraamtes en afval van industrialisasie het dit vervang. Die N1 by Centurion is onder konstruksie – dit gaan n reusagtige, multibaan vervoerband word. Ek wonder wat die situasie rondom ons stede gaan wees oor honderd jaar. Heimlik is ek bly dat ek so lank gelede gebore is en nog iets van die vredigheid van Pretoria se sestigerjare kan onthou- toe Garsfontein nog plotte en plase was en Lynnwoodweg n straatjie aan die buitewyke van Pretoria. Maar nouja, ek was al voorheen daarvan beskuldig dat ek sentimenteel is.
Die N4 is bekende gebied vir my, en ek ry met my eie gedagtes, waarvoor n mens baie tyd het op so n rit. Dit is n goeie geleentheid vir introspeksie en om jou vriendskap met jouself weer te verstewig.
Die BMW dreun rustig voort. Hy het op die hele rit nie n voet (band?) verkeerd gesit nie. Behalwe vir branderige oë en nekspiere, is ek nog reg vir baie kilometers. Dis hoe gemaklik hy is. Ek verstaan hoekom daar so min tweedehandse 1200’s te koop is. Soos met n deugsame vrou hou jy wat jy het.
Elfuur die oggend trek ek op die plaas voor die skuur in. Ek het amper vier duisend kilometer in n week gery. Ek hoop die lus om te RY is in n mate gedemp sodat ek volgende keer kan TOER.
Ek pak af en pak uit en spuit die modder en stof van die bike en tasse af. Die bike lyk nog steeds splinternuut. Net die agterwiel is nou vierkantig. Maar Long Tom pas se draaie sal gou weer die chicken strips wegvreet. Ek politoer die tasse en pak hulle weg….maar nie te diep nie. Want alreeds begin daar n PLAN in my kop gestalte kry. En die PLAN behels die tasse, en die GS, en myself, en die wye ruimtes.
Great story. How long ago did this happen.? It very mu ch reminds me of a bicycle trip I did as a student in Pretoria cycling home to the Farm past Culinan Diamond Mines, By-nes poort was my half-way stop on my 40-+mile journey.
I am interested to know which Stoltz’s you are from. My father was born in Carolina. Brother Ben an train driver lived in Durban.
I was born in Pretoria where we grew up. I have since travelled the world and ended up in Canada married to a KIWI I met in Sydney Australia in 1962
COENIE STOLTZ
Hi Coenie,
My father Gert Willem Stoltz was born in 1942 either in Carolina or just down the road in Amersfoort. His father was Coenraad Willem Stoltz- long time inspector at Transvaal Education Dept and later head of Amersfoort high school. Also had a Jersey cattle dairy and stud on a small farm outside of Amersfoort.
I dont know much about the Stoltz’s- other than I’m 5th generation South African and some of them (us) were a rough lot: When a lion terrorized a nearby village, 2 Stoltz brothers got on their horses with a whip each, and donnered the lion out of its hiding place in a thicket…
Coenie, sadly, I dont know the family history much beyond my father’s father- Coenraad Willem Stoltz. Have you tried the Family Tree website?
C
Loved the Story. It brought back good old memories.
Baie dankie Gert
Coenie Stoltz
Wat n heerlike storie. Dit neem my sommer ver terug. Ek het die voorreg gehad om in 1977 en 1978 by (Mnr.) Gert Stoltz Engels te kry in Lydenburg Hoerskool. Hy was ‘n uitstekende onderwyser by wie ek baie lewenslesse geleer het wat ek vandag nog onthou. Sal nooit sy voorlesings van Herman Charles Bosman vergeet nie.
Japie de Jager
Japie, meeste van my pa se oud skoliere vergeet ook nooit die pak(ke) slae wat hulle by Mnr Stoltz gekry het nie!
Dis ‘n forking lekker storie!
Lekker saam gery, dankie Gert!! Nog baie kilos saam met die 1200 vir jou
Groetnis
[…] Originally posted at https://www.conradstoltz.com/n-lang-rit-na-vryheid-deur-gert-stoltz/#more-1724 […]
Dankie Gert !!!
““Daar loop drie beeste in die kamp. Ek het hulle verruil vir jou motorfiets.””
Ek huil-lag sommer van die lekker kry – die “ou-mense” het nie k@k gevat nie 😉