Posts Tagged ‘Triumph 650 Speed Twin’
Voordat ek begin wil ek net eers die ding van n motorfiets en n bike uitklaar. Daar is ouens wat definisies het van wanneer jy n biker is en wanneer nie. Vir die doel van hierdie storie gee ek nie om om nie as n biker te kwalifiseer nie. Maar ek wil graag na die ryding as n bike verwys bloot omdat die woord 4 letters het en motorfiets 10. En onder die broers en susters wat hierdie vreemde beheptheid het, staan die voertuig bekend as n bike.
“Bikebedonnerd” is n goeie beskrywing vir ouens wat hierdie ding het oor bikes. Ander voel waarskynlik net so sterk oor hulle besondere belangstelling, maar om iemand “seëlsbedonnerd” of “rolbalbedonnerd” te noem klink net nie reg nie – die konnotasie met oer-instinkte is net nie daar nie. Dit gesê, glo ek dit is noodsaaklik dat, ter wille van jou geestesgesondheid, elkeen een of ander begeesterde beheptheid moet he, al is dit ook net tydelik. Dit red jou van n staat van totale apatie en verveling – tipiese kwale van die huidige tydvak. Dit is sekerlik n interessante studieveld vir sielkundiges wat soek na antwoorde vir hulle pasiente wat vrae vra na die sinvolheid van die lewe.??Waar die besondere belangstelling in n bepaalde ding vandaan kom, is n ope vraag. Dalk is dit geneties. Of geïnspireerd deur voorbeeld. Wat bepaald nie in my geval geld nie. Ek was bikebedonnerd van n baie vroeë ouderdom ten spyte van die streng behoudende atmosfeer en hoe kulturele waardes wat die geldende norms in ons huis was. Ek het groot geword in die tyd van die Ducktails, en motorfietse was n absolute taboe, volksvreemd en waarskynlik sedebederwend. Tog was daar n oom van my wat n ingeduikte oogkas gehad het, wat, soos dit gefluister was, die gevolg van n motorfietsongeluk was. En soos swaksinnigheid in sekere families, slaan die bikeding nog vandag in ons familie uit: my seun en drie neefs het die streep weg, en n susterskind (n dogter nogal) het nou die dag aangekondig dat sy n bike gaan koop – tot algemene konsternasie en ontsteltenis van die familie. Soos n virus dryf die ding in jou bloed en wag vir n geskikte oomblik om toe te slaan.